______________________________________________________________________________

    MARANATA !

  Die Here kom

   

 

 

  "En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op,

omdat julle verlossing naby is"

Luk. 21:28

Die woord Maranata kom uit die Aramese taal en beteken: die Here kom. Dit was die gebruik onder die vroeë Christene om mekaar met hierdie woord te begroet.

 

Lees die jongste uitgawes van Eindtyd Bulletin

Eindtyd Bulletin 50 Augustus 2001

Eindtyd Bulletin 51 September 2001

 

Verskeie artikels

 

 TYD VAN DIE EINDE

'n Boek van 420 bladsye in 4 dele

 

Ander webwerwe

NAVRAE: D.J. Erasmus by trumpsound@xsinet.co.za

 

LEES HIERONDER OOR DIE WERKLIKHEID VAN DIE HEL

EN DIE HEERLIKHEID VAN DIE HEMEL !

 

 DIE WERKLIKHEID VAN DIE HEL !

 

"die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele."

(Matt. 25:41).

 

Miskien het jy ook al gewonder waarom God hierdie wêreld op so ‘n geweldige klimaks laat afstuur. Jy weet, eintlik is dit net genade, want die mens wil steeds nie leer wie God is en hoe hy handel nie. God sal eerder mense fisies laat sterf om daardeur nog andere geestelik te red van die ewige vuur. In swaar tye begin mense God soek. Die geskiedenis het dit al oor en oor geleer.

Baie mense het egter ongelukkig ‘n totaal verwronge siening van wat die hel is waarvan die Bybel praat. Sommige reken dit is die Satan se hel wat hy berei het vir die wat nie in God glo nie en dat hy mense daar gaan terroriseer vir ewig. Ander reken weer dit is ‘n heerlike plek van sonde. Nog ander beskou die hel as niks meer as net ‘n Godverlate toestand nie - ‘n skeiding met die ware God. Sommige meen ook dat hulle reeds hel hier op aarde het en dat dit maar al is wat die Skrif daarmee bedoel. Nie een van hierdie sienings is hoegenaamd Bybels nie.

Jesus Christus self het omtrent sewe maal meer oor die hel gepraat as oor die hemel. Om die waarheid te sê daar is in die Nuwe Testament alleen meer as 162 verwysings na God se hel. Hiervan was meer as 70 deur die Here Jesus Christus self ! Dit verdien dus verseker ons aandag.

Baie vandag reken dat ons nie mense moet bang maak met die gedagte van die hel nie. As jy so ‘n siening het, dan is God mos eintlik die een wat ons wil bangmaak of hoe. Hy het tog aanvanklik die hel as ewige plek van oordeel in sy Woord geplaas. Beteken dit nou dat Hy nie ‘n God van liefde is nie? Nee, hoegenaamd nie. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Ja, Hy het uit absolute liefde sy enigste Seun wreed aan ‘n vloekhout laat sterf vir my en jou. Daar moes ‘n baie goeie rede gewees het hoekom Hy tot so ‘n drastiese stap moes oorgaan. Die feit van die saak is dat almal totaal verlore gebore is a.g.v. die sondeval. In Rom. 5:12 en 13 lees ons: "DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het - want voor die wet was daar al sonde in die wêreld;" Net God self kon die oplossing bied en Hy het ook deur self mens te word en te sterf sodat ons deur sy sondelose bloed herstel en vergewe kan word as ons in sy Naam glo met ons hele hart. Soos daar al baie kere gesê is, die grootste bewys dat daar regtig ‘n hel is - ‘n ware poel van vuur, is die feit dat dit God sy Seun gekos het om ons daarvan te kom verlos. Jesus se kruisdood is die sekerste bewys van die realiteit en bestaan van die hel.

Die lewende God is geen dwaas wat so ‘n fout sou begaan het as daar niks was waarvan die mens verlos moes word nie. God se hel is natuurlik in die eerste plek gemaak vir die duiwel en sy mede gevalle engele wat teen God gerebelleer het. Daarna sal elkeen wat God se ontsaglike groot liefdesaanbod van die hand gewys het, ook regverdiglik in die poel van vuur gewerp word. Die Skrif is tog so duidelik oor hierdie saak.

Ongelukkig is daar deesdae bitter min mense wat nog in die bestaan van die hel glo. Ons hoor dikwels van nog teoloë selfs, wat die bestaan van ‘n letterlike hel ontken. Hierdie tendens om die bestaan van die hel te bevraagteken kom egter al ‘n baie lang pad. Charles Spurgeon, groot prediker van die vorige eeu, het dit daardie tyd al bemerk en het dit reeds in 1865 as volg opgesom:

"There is a deep-seated unbelief among Christians just now, about the eternity of future punishment. It is not outspoken in many cases, but it is whispered; and it frequently assumes the shape of a spirit of benevolent desire that the doctrine may be disproved. I fear that at the bottom of all this there is a rebellion against the dread sovereignty of God. There is a suspicion that sin is not, after all, so bad a thing as we have dreamed. There is an apology, or a lurking wish to apologize for sinners, who are looked upon rather as objects of pity than as objects of indignation, and really deserving the condign punishment which they have wilfully brought upon themselves. I am afraid it is the old nature in us putting on the specious garb of charity, which thus leads us to discredit a fact which is as certain as the happiness of believers."

Onlangs het die Pous gesê dat die hemel en ook die hel geen werklike of fisieke plekke is nie. Die hel is volgens hom ook net ‘n geestelike ‘toestand.’ Hy het verder bygevoeg dat mense wat "hulle aan ander gewy het", menende aan ander gode, ook hemel toe sal gaan (Rapport, 1 Augustus 1999). Al is daar nie regtig so ‘n plek nie?

Volgens die Anglikaanse Kerk se dokument, ‘The Mystery of Salvation’, is die hel bloot die "choosing of that which is opposed to God so completely and absolutely that the only end is non-being."

(The Christian Conscience, Oktober 1996).

Dit is verbasend hoedat die berugte Satanic Bible (p. 33) van die nou oorlede Anton LaVey, dieselfde te sê het oor die hemel en die hel:

"There is no heaven of glory bright, and no hell where sinners roast. Here and now is our day of torment! Here and now is our day of joy! Here and now is our opportunity! Choose ye this day, this hour, for no redeemer liveth." Die vader van die leuens aan die woord !

Natuurlik is dit nie wat die Woord ons leer nie. Hierdie is net nog ‘n ontduiking van die werklikheid van die hel as ‘n ewige plek van vuur en swael. Die mens wat Christus verwerp gaan beslis nie ophou bestaan nie, maar gaan ‘n opstandingsliggaam - ‘n onsterflike liggaam ontvang. In Op. 20:12 lees ons hoedat die dode (geestelike dode) klein en groot voor God sal staan. In Op. 14:11 sien ons dat die pyniging van die onweergeborenes vir ewig sal aanhou en dat hulle dag en nag geen rus sal hê nie. Dit kan slegs gebeur as iemand vir ewig gaan lewe, maar wel in die hel. Al wat eintlik van belang is, is of jy God se Woord glo of nie. Sonder geloof kan niemand God in elk geval behaag nie (Heb. 11:6).

As ‘n mens nou gaan kyk na die gedeelte in Luk. 16 wat handel oor die ryk man en Lasarus, dan word dit baie gou duidelik dat hierdie woorde geensins ‘n gelykenis is wat bloot simbolies geneem kan word nie. In Jesus se gelykenisse word daar nooit spesifieke name genoem nie. Hier lees ons egter van Lasarus in die hel asook van vader Abraham in die hemel. Daar is ook ‘n verwysing na Moses en die profete wat in geen ander gelykenis van Jesus voorkom nie. Hierdie was ‘n ware verhaal van ‘n man wat God nie geken het nie en net op sy geld en besittings vertrou het. Miskien was hy nog die ryk jong man wat vroeër nie van sy besittings wou afstand doen om Jesus te volg nie. Hierdie Lasarus het ook geleef in die hel of doderyk, want hy het uitgeroep dat hy smarte ly "in hierdie vlam." (Luk. 16:24).

Baie mense vrees die hel of die duiwel, maar laat totaal na om God te vrees. Dit (die vrees van die Here) is egter die beginsel van die wysheid en ook van kennis volgens die boek Spreuke. Jesus Christus het self gesê dat ons nie hom moet vrees wat die liggaam kan doodmaak nie, maar veel eerder Hom wat die liggaam sowel as die siel kan verderwe in die hel - dit is vir God. Hierdie tipe vrees is ook meer ‘n ontsag vir God, respek en agting asook ‘n heilige eerbied. Die Woord leer ons verder duidelik dat ons nie ‘n "gees van vreesagtigheid" (2 Tim. 1:7) ontvang het nie. Dit is dus nie so ‘n tipe vrees teenoor God waarvan die Bybel praat nie.

‘n Aantal jaar gelede het daar ‘n opspraakwekkende berig in ‘n Finse koerant, Ammenusastia (Augustus 1989), verskyn. Die berig is herhaal in die Weekly World News van 24 April 1990 en het o.a. die volgende rare inligting bevat oor ‘n span meestal Russiese geoloë wat in wes-Siberië besig was om ‘n gat in die aardkors te boor. Op ‘n diepte van nagenoeg 15km is ‘n vreemde ontdekking gemaak:

"As a communist I don’t believe in heaven or the Bible but as a scientist I now believe in hell," said Dr. Azzacove. "Needless to say we were shocked to make such a discovery. But we know what we saw and we know what we heard. And we are absolutely convinced that we drilled through the gates of hell!"

Dr. Azzacove continued, ". . .the drill suddenly began to rotate wildly, indicating that we had reached a large empty pocket or cavern. Temperature sensors showed a dramatic increase in heat to 2,000 degrees Fahrenheit."

"We lowered a microphone, designed to detect the sounds of plate movements down the shaft. But instead of plate movements we heard a human voice screaming in pain! At first we thought the sound was coming from our own equipment."

"But when we made adjustments our worst suspicions were confirmed. The screams weren’t those of a single human, they were the screams of millions of humans!"

Is dit wat die man hierbo beskryf het enigsins Bybels, is moontlik nou ‘n vraag wat gevra sal word. Ja, verseker. In Efes. 4:9 lees ons dat Jesus Christus voordat Hy na die hemel opgevaar het "eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde"

In Matt. 12:40 lees ons ook hoedat Jesus self gesê het dat Hy sal "drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees." Ons lees ook in 1 Pet. 3:19 dat Christus "heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis," In hierdie verband lees ons ook waar hierdie plek was waarheen Christus neergedaal het. In Judas vers 6 sien ons dat God hierdie geeste of gevalle engele "vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;" Die Engelse King James Bybel is ook baie duidelik oor waar die hel of doderyk tans is: "Though they dig into hell ... " (Amos 9:2). Dit is in die aarde !

In The Birmingham News van 10 April 1987 lees ons die volgende insiggewende nuus: "‘Earth's Center Hotter Than Sun's Surface, Scientists Say’ - The earth’s inner core has a temperature of over 12000 degrees Fahrenheit!" Dit wat ons in die Bybel lees is dus geheel en al wetenskaplik verantwoordbaar. Ons moet onthou dit is die Woord van die God wat die hemel en aarde self gemaak het.

As ons na die boek Numeri gaan, sien ons weereens dat hierdie dinge hoegenaamd nie vergesog is nie. Ons lees daar oor Datan en Abiram en hoedat hulle na die doderyk afgedaal het nadat die aarde sy mond oopgemaak het (Num. 16:32,33).

Die feit van die saak is dat die hel ‘n absolute werklikheid is en dat niemand dit kan wegwens of wegredeneer nie. Die Bybel sê vir ons, in die woorde van Jesus Christus self, dat die hel ‘n plek is van:

 

- "vuur" Matt. 7:19, 13:40, 25:41

- "ewige vuur" Matt. 18:8, 25:41

- "ewige oordeel" Mark. 3:29

- "helse vuur" Matt. 5:22, 18:9, Mark. 9:47

- "oordeel van die hel" Matt. 23:33

- "opstanding van die veroordeling" John 5:29

- "vuuroond" Matt. 13:42, 50

- "onuitbluslike vuur" Mark. 9:43, 45

- "waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie"

Mark. 9:44, 46, 48

- "geween" en "gekners van tande" Matt. 13:42, 50

Jesus Christus behoort te weet waarvan Hy praat. Hy het ‘n baie duur prys betaal en groot hemelse heerlikheid verlaat om die probleem te kom oplos. Sal ons dan ag gee op sy onfeilbare Woord en ons tot Hom bekeer.

In Op. 20:14 en 15 lees ons: "En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp."

Dit is ‘n werklikheid. Kyk na die volgende laaste woorde van bekendes - woorde wat op hulle sterfbeddens geuiter is:

 

- "I am in the flames" - David Hume, ateïs

- "I am lost! I clearly see it!" - Charles IX van Frankryk

- "I am standing before an awful leap into utter darkness!" - Hobbes, filosoof

- "Untill this moment I thought there was neither God nor hell. Now I know both are a reality, and I am facing damnation through the just judgement of the Almighty One!" - Thomas Scott, Britse politikus

- "There must be a God. He will punish me because of my sins!" - Jagoda, sekretaris van die Russiese geheime polisie

- "Please, burn all my books! Behold, the Holy One! He has been waiting for me for a long time. He is here!" - Jaroslawski, president van die Internasionale Ateïste Beweging

(‘Letzte worte grosser manner’, West Europa Mission).

 

Die laaste woorde van Christus was: "Dit is volbring!" (Joh. 19:30).

Waar gaan jy wees ?

_______________________________________________

 

 

DIE HEERLIKHEID VAN DIE HEMEL

 

"Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat hom liefhet." (1 Kor. 2:9).

 

Om te dink aan die hemel is vir ons byna te veel. Die blote gedagte daaraan is asemrowend. Daar is egter baie wat meen dat so ‘n utopiese plek net in drome bestaan en ander weer reken dat ons alles in die stryd moet werp om self hemel hier op aarde te bewerk. Dit is so dat ons nie in hierdie tydelike bestaan die konsep van die ewige hemel en die heerlikheid daarvan eers naastenby ten volle kan begryp nie, maar die vraag bly egter: Wat sê die Woord van God oor die hemel en die tyd hierna?

Baie vroeg in die Bybel, om die waarheid te sê, in die heel eerste vers van die Skrif, lees ons wanneer die hemel geskape is, nl. "In die begin het God die hemel en die aarde geskape." (Gen. 1:1). Die hemel was nie van altyd af daar nie. Nee. God was en is wel van ewigheid af daar - Hy is nooit geskape nie, maar die hemel is wel deur Hom geskape. Die hemel is op dieselfde tyd geskape as die aarde. So sê die Skrif. Die hemel is in die begin geskape - die begin van tyd. Die aarde is ook aan die begin van tyd geskape. Voordat die hemel en die aarde geskape is, was daar geen tyd nie. Die ewigheid was voor dit en die ewigheid sal na dit ook wees. Die huidige hemel gaan egter op ‘n dag verbygaan - dit sal ophou bestaan. In Matt. 24:35 lees ons dat die hemel en die aarde verby sal gaan. Net die woorde van God sal nooit verbygaan nie. Dit is ongelukkig beslis nie wat die meeste Christene vandag glo of besef nie. In 2 Pet. 3:10,12 sien ons baie duidelik dat "die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan" en spesifiek ook dat die "hemele deur vuur sal vergaan." Dit klink byna vreemd, maar tog gaan dit gebeur. Ons sien verder in Jes. 34:4 en Op. 6:14 dat die hemel op ‘n dag sal wegwyk en uiteindelik soos ‘n boek toegerol sal word. Die woorde van Ps. 102:26-28 vertel die hele verhaal: "In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie."

Uit die Skrif kan ons ook duidelik aflei dat daar drie hemele is waarna deurgans verwys word. Eerstens die lug bo ons, soos wanneer daar verwys word na die ‘voëls van die hemel.’ Tweedens die sterre-hemel en derdens die hemel as huidige woonplek van God - die plek waarvandaan Christus neergedaal het na die aarde, toe Hy Homself so uitermate verneder het vir ons. Die apostel Paulus is op ‘n keer weggeruk na hierdie "derde hemel." (2 Kor. 12:2).

In die boek Esegiël lees ons van die verbysterende gesig, wat hierdie profeet van die Here, van die hemel en ook van God gehad het. ‘n Eseg. 1:4 lees ons: "Toe het ek gekyk - en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter." Hy gaan dan voort en vertel van die vier lewende wesens wat hy gesien het - ‘n beskrywing van God in sy verskillende fasette.

Interessant dat hierdie stormwind juis uit die noorde afkomstig was. In Jes. 14:13 lees ons ook van die woonplek van God "op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde." Sien ook Job. 26:7,11. Esegiël vertel egter verder wat hy gesien het: "En daar het ‘n stem gekom bo van die uitspansel af wat oor hulle hoof was; ... En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het. Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in ‘n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met ‘n glans daaromheen. Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek." (Eseg. 1:25-28).

Wat ‘n beeld van die lewende God en sy woonplek. Hierdie gedeelte stem baie goed ooreen met die gesig wat die apostel Johannes gesien het en waarvan ons lees in die boek Openbaring.

In die boek Jesaja lees ons die aangrypende gedeelte oor die roeping van die profeet Jesaja en hoedat hy sy volk moes gaan waarsku. Hy het ook die hemel gesien en dit soos volg beskryf: "ek [het] die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword. Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare gesien!" (Jes. 6:1-5). Die absolute heerlikheid en heiligheid van God in die hemel het die profeet Jesaja totaal oorweldig en daarom kon hy nie anders as om hierdie woorde te uiter nie.

Dit is interessant hoedat beide Esegiël en Jesaja (en later ook Johannes in Openbaring) vir ons beskryf hoedat God op ‘n troon van engele sit. In Ps. 18:11 lees ons ook hoedat Dawid God beskryf: "En Hy het op ‘n gerub gery en gevlieg;" en dan weer in Ps. 99:1 lees ons: "Die HERE is Koning; laat die volke bewe! Hy troon op die gerubs;"

In die boek Daniël vind ons ook ‘n heerlike en besonderse beskrywing van God op sy troon, wat deur hierdie profeet vir ons op skrif nagelaat is: "Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen." (Dan. 7:9,10).

Die woorde in Heb. 12:29, dat ons God ‘n "verterende vuur" is, kry hierdeur nuwe betekenis. In sy heilige teenwoordigheid kan net absolute geregtigheid inkom - daardie geregtigheid wat Christus vir ons, sy kinders, bewerk het aan die kruis. Alle nagemaakte, mensgemaakte geregtigheid of heiligheid sal deur vuur verteer word. Hierdie gesig van Daniël gee vir ons ‘n idee van wie God is en hoe dit in die hemel sal wees - in die teenwoordigheid van die lewende Here.

Paulus het geskryf oor ons hemelse woning waarna ons verseker mag en behoort uit te sien: "Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word," (2 Kor. 5:1,2). Die groot man van God, Abraham, is bekend vir sy uitermate groot geloof in God. Sy geloof was van so ‘n aard dat hy destyds al, duisende jare gelede, reeds "die stad verwag [het] wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." (Heb. 11:10). Abraham het daardie tyd al die nuwe Jerusalem verwag en daarom het hy uit Ur van die Chaldeërs weggetrek na ‘n land wat God hom gewys het. Vandag, kort voor die wederkoms van die Here, is daar egter weinig kinders van God wat enigsins ‘n begeerte het om uit te sien na die huis wat nie met hande gemaak is nie. Die wêreld met sy dinge is vir baie net te bekoorlik en te wonderlik om aan so iets soos ‘n hemelse tuiste te dink. Paulus het verlang om heen te gaan, omdat dit volgens hom verreweg die beste sou wees, maar vandag wil Christene en nie-Christene nie van die hemel hoor nie. Sommige dink daar gaan net gesing word en dat dit eintlik, met respek gesê, vervelig in die hemel gaan wees. Sulke gedagtes is so ver van die waarheid. As God hierdie aarde so interessant en indrukwekkend geskape het, sal ons ons nie eers kan indink hoe asemrowend die hemel moet wees nie.

Paulus sê dat toe hy weggeruk is na die Paradys, het hy daar woorde gehoor "wat ‘n mens nie eers mag uitspreek nie." (2 Kor. 12:4). Het hierdie gesig van die hemel nie dalk iets te doen gehad met sy onblusbare ywer vir die saak van God tot en met sy dood nie? In Heb. 12:22,23 lees ons van die hemelse Jerusalem en wel van "die feestelike vergadering en die gemeente van die eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is," Wat ‘n vooruitsig vir elkeeen wat waarlik weergebore en in Christus is. Die apostel Johannes het ‘n gesig van Jesus Christus in die hemel gehad wat baie nou ooreengestem het met die van Esegiël en Daniël. Hy het sewe goue kandelaars gesien "en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens ... Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, ... en sy stem soos die stem van baie waters." (Op. 1:12-15). In Op. 4:2-6 het Johannes nog meer van die hemel gesien: "daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. ... En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter."

Enige dag kan ons hierdie troonsaal binnestap en is ons gereed om hierdie almagtige heilige God te ontmoet? Elkeen wat sê hy of sy is ‘n Christen moet op een of ander stadium hieraan dink.

In die hemel sal sekere dinge vir altyd verby wees. Ons kyk na dit wat die Woord ons hieromtrent vertel, na die dinge wat tot in ewigheid nooit weer daar sal wees nie:

 

1. Daar sal GEEN see wees nie

2. Daar sal GEEN trane wees nie

3. Daar sal GEEN dood wees nie

4. Daar sal GEEN droefheid wees nie

5. Daar sal GEEN moeite wees nie

6. Daar sal GEEN tempel wees nie

7. Daar sal GEEN son wees nie

8. Daar sal GEEN maan wees nie

9. Daar sal GEEN nag wees nie

10. Daar sal GEEN sonde wees nie

11. Daar sal GEEN geslote deure wees nie

12. Daar sal GEEN vervloeking wees nie

(Op. 21:1,4,22-25,27 en Op. 22:3).

Ons sal ook nie meer dink aan die dinge wat tevore was nie en dit sal nie meer in ons hart opkom nie - geen negatiewe of slegte gedagtes ooit weer nie (Jes. 65:17).

Die volgende heerlike dinge sal egter wel in die ewigheid daar wees:

 

1. ‘n Nuwe hemel

2. ‘n Nuwe aarde

3. ‘n Nuwe stad Jerusalem met:

Twaalf poorte van pêrels en

Twaalf fondamente

4. ‘n Straat van suiwer goud soos deurskynende glas

5. ‘n Suiwer rivier met water soos kristal

6. Die boom van die lewe wat twaalf keer per jaar vrugte dra

7. Die Lam (Christus) as die lamp om die stad te verlig

(Op. 21 en 22).

Die vraag is, gaan jy daar wees? Is jy gewas in die bloed van die Lam?

- Is dit die moeite werd om die ewigheid prys te gee vir ‘n bietjie, uiters kortstondige, tydelike plesier?

- Hoekom nou die wêreld dien as jy eendag in elk geval vir God in die hemel gaan dien?

- Hoekom nou nog vashou aan sinnelose, niksseggende dinge as jy dit vir ‘n ewigheid nie meer sal kan doen nie?

- Hoekom 70 of 80 jaar lank die duiwel dien en dan hoop dat jy in die hemel sal kom en daar God vir ewig sal wil dien? Hierdie lewe is nie die einde van alles nie. Nee, dit is maar net die BEGIN !

Hierdie lewe is net ‘n proeftydperk vir die ewigheid wat wag.

Die wederkoms sal hierdie proeftydperk afsluit en dan begin die res van jou lewe.

Elkeen wat die Here ken, sal ingaan in die heerlikheid van die hemel !

Om te dink ons sal Noag en Henog en Moses in die hemel ontmoet en Abraham en Isak en Jakob. Ook Josef en Elia en Dawid en Daniël. Ja, ook vir Petrus en Johannes en Jakobus en natuurlik ook vir Paulus. Bo dit alles egter sal ons Jesus ontmoet en ons sal die merke in sy hande en voete kan sien en ons sal weet dat ons uiteindelik tuisgekom het.

 

VERLIGTE OË VAN DIE VERSTAND

 

Kan alles oor die sg. eindtyd werklik waar wees of is dit maar net wensdenkery ? Hoekom glo almal in die wêreld dan nie dat die wederkoms naby is nie ? Om hierdie en ander vrae te beantwoord, moet ons onsself tot die geïnspireerde Woord van God wend, wat ‘n besliste antwoord in die verband gee. Paulus sê vir die gemeente van Efese dat hy nie ophou om vir hulle te bid nie "dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;" (Efes. 1:17,18). Die Heilige Gees van God beskik oor al die kennis en wysheid wat bestaan. As ons dan weergebore is en God in gebed aan hierdie beloftes herinner, sal Hy antwoord en sy lig oor ons laat skyn. Nooit sal ons in die duister hoef rond te tas nie. Elkeen wat soek, sal vind en vir elkeen wat klop sal oopgemaak word. Ten spyte van al die negatiewe dinge in hierdie wêreld, sal ons dan die ‘hoop van sy roeping’ begryp. Ons sal ook besef dat hierdie wêreld soos dit vandag is, nie ons ewige tuiste is nie, maar dat ons kan uitsien na die ‘heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges’. Die Heilige Gees verlig die oë van ons verstand sodat ons kan verstaan dit wat in die Woord geskrywe is. Ongeveer een derde van die Bybel bestaan uit profesieë en tot dusver is elke een daarvan nog tot op die letter vervul. Die Here sê in Op. 3:18 Hy raai elkeen aan wat nie kan sien nie, om salf te koop "om jou oë te salf, sodat jy kan sien." Hierdie salf is die Heilige Gees en hoe sal die Vader dan nie die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid nie (Luk. 11:13). Elkeen wat steeds sê dat alles maar bloot is soos dit vroeër was, het sonder twyfel die salf van God nodig - die Heilige Gees, om daardeur te verkry die verligte oë van die verstand. Elkeen wat kan sien, moet egter versigtig wees dat sy of haar oë nie stadig besig is om toe te val nie. Die Bybelse opdrag in 1 Thess. 5:17, nl. "Bid sonder ophou", was nog nooit so van pas as vandag nie.

Die almagtige, alwetende God sê in sy onfeilbare Woord die volgende heerlike en vertroostende woorde:

"Roep my aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie." (Jer. 33:3).

Wees opreg van hart en toets God hieraan, Hy sal jou nooit teleurstel nie.

 

‘N UITNODIGING NA DIE BRUILOF

 

Daar is slegs EEN manier om hierdie uitnodiging te aanvaar. Dit is verder definitief gratis, maar geensins maklik nie. Dit word ook slegs bekom deur genade, maar is beslis nie goedkoop nie. Dit hang alles af waar jy ingegaan het, want die Skrif sê: "Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind."

(Matt. 7:13,14).

Daarom "stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie."

(Luk. 13:24).

Jesus Christus het dit duidelik gemaak hoe om by hierdie nou poort in te gaan toe Hy gesê het:

"Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word,"

(Joh. 10:9).

Hy het egter net gekom om dié te soek en te red wat verlore is (Matt. 18:11), m.a.w. elkeen wat erken en verstaan dat hulle nie sonder God kan voortbestaan nie. Is daar dan sommige wat nie verlore is in sonde nie ? Die Skrif antwoord duidelik: "almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God," (Rom. 3:23). Ja, "daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie." (Rom. 3:10). Maar wat van al die goeie mense op aarde ? Is daar dan nie baie goeie mense nie ? Die Skrif verklaar reguit en eenvoudig: "Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie." (Rom. 3:12). Mense is goed in mekaar se oë, maar verseker nie in die oë van ‘n volmaakte God nie !

Wat is dan die oplossing ?

Die Woord maak dit baie eenvoudig: "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;" (Rom. 10:9). Dit behels egter nie net ‘n geloof aan ‘n historiese Christus wat eenmaal op aarde geleef het nie. Nee, dit behels ‘n geloof in die hele Woord van God, want Jesus Christus is self die vleesgeworde Woord (Joh. 1:14). Hierdie selfde Jesus het gesê: "As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar." (Joh. 14:23).

 

Wat dan is die ewige lewe? Jesus het tot sy Vader in die hemel gebid en gesê:

"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het." (Joh. 17:3).

Ken jy hierdie God? Ons kan Hom ken deur sy Woord. Dit is die ewige lewe. Hierdie lewe is skaarser as diamante. Dit is meer kosbaar as fyngoud. Dit kos niks om te verkry nie, maar tog kos dit alles. Dit is ‘n nuwe lewe. ‘n Nuwe begin. Die ewigheid saam met God en sy Christus is die beloning. Niks op hierdie aarde kan daarmee vergelyk word nie, maar jy kan dit net verkry terwyl jy nog op hierdie aarde is.

Vandag is die dag om hierdie lewe te soek !

 

Die uitnodiging staan steeds na tweeduisend jaar:

 

"En die Gees en die bruid sê: kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet."

Op. 22:17